So ietsie oor myself…

Ongetroud en in my dertigs, met ‘n kat wat my geselskap hou, wonder die oumas aan beide kante of ek nie dalk sterk op pad is om ‘n oujongnooi te word nie. Nee, dit is nie wat ek aanneem nie….. Dit word vir my gesê! My verwagtinge is buitengewoon hoog en in my geestesoog het ek die vlerke van ‘n engel. Ek sweef deur die lewe. Hierdie rooikop meisie van die voorstede is in haar hart ‘n doodgewone mens, maar vir die res van die samelewing is ek ietwat… eksentriek… en baie kompleks.

Daar is heelwat aspekte wat my na aan die hart lê. Alhoewel ek nie politiek as ‘n besprekingspunt sal aanknoop nie, raak ek moedeloos oor die nuusflitse wat ek elke dag lees. Die swaarkry van ander wat net eenvoudig nie bo hulle omstandighede sal kan uitstyg nie, maak my hartseer. Onbeskofte, ondankbare en onbeproefde mense maak my de donner in. Godsdiens is ‘n woord wat ek sukkel om te omskryf want wat ek in die kerk geleer is en wat die lewe my leer, kom net nie bymekaar uit nie. My harts kennis vertel my dat my kop kennis ‘n leuen is. So ek is boonop deurmekaar. Ek verstaan nie liefde nie en begin dink my soeke na antwoorde gaan nog lank aandrentel, want ek is partykeer blind en vreeslik eiewillig. Die natuur inspireer my en my beelde elke dag, so in die verby ry op pad werk toe, of in my rustig-word tyd voor God laat my nederig op my knieë….. Daar is nog mooi in die wêreld.  Ek moet net leer om dit elke dag te onthou.

Ek sukkel party dae, meer as ander kere, om die grys van ‘n mens se bestaan in my swart en wit verwysingsraamwerk te plaas.  Heel verstrooid en vasgevang in my kakofonie van denke, probeer ek sin maak uit die dinge wat gebeur. Ek is nie ‘n goeie skolier van die sielkunde nie, want my kop en hart spreek nie dieselfde taal nie.  Heel waarskynlik is daar ‘n handleiding wat my nog gaan wys hoe ek myself moet verstaan… êrens…  want somtyds word die maniese geluk verswelg deur donker dieptes en dit is dan in  hierdie dae waar ek moet kophou!

So kaalvoet oor die klippe van die lewe het ek al baie my tone nerfaf gestamp. Ek glo die lewe het in die kronkel padjies van my korte bestaan, my die lesse geleer wat baie mense nooit sal ervaar voor hulle finaal hulle koppe neerlê nie. My ervarings het my gemaak wie ek vandag is. So plein soos wat ek in my hart glo ek is, so kleurvol is my menswees vir die ander om my. Paradoks…. is die beskrywing wat ek sal gebruik om al die van my lewe in een woord te omskryf.

************************************

  • Meer oor die Suburbs…

  • Stem vir my

    Vote for this Blog

  • “n Voorstedelike Engel

    Ek is 'n nooi van Pretoria maar woon al 'n paar jaar in die Goudstad. Dit is in my nuutgevonde vryheid waar ek besonderse dinge beleef het en mense ontmoet het wat my bestaan ingekleur het. Mooi herinneringe is gebou; maar ook hartseer terugslae is beleef. Of hierdie nou 'n spoegblok, 'n dagboek of net die neerpen van 'n mengelmoes van my onsamehangende denke is, is debateerbaar. Dalk is ek 'n filosoof met die wyshede van die wêreld wat ek aan ander kan openbaar..... Ek kan dus bieg, wat ook al die beskrywing... hierdie is 'n persoonlike soeke na innerlike vrede en antwoorde wat ek verstaan.

  • My gedagtes draai om…

  • Besoekers nou by die suburbs…

    • Daar is tans 6 Besoekers aanlyn
  • 'n Wolk van Sleutelwoorde...

  • Onlangse Opmerkings...

  • Kontak die Suburbs

  • Argiewe van gedagtes

  • Ek ondersteun graag…

  • Besoers aan die Suburbs…

    Hit Counters
  • Neem asseblief kennis…

    Kopiereg © 2010 Girl van die Suburbs - Alle regte voorbehou - totdat die Stormers die Super 14 wen. Wat beteken dit is van nou af tot in alle ewigheid. Hierdie blog is vir my ontwikkel op WordPress en 'n eie, unieke tema op die Thematic platform deur 2imagine met grafiese ontwerp insette deur I Love Design

  • Afrigator
  • Creative Commons License