Soms is ‘n mens spyt oor die paaie wat jy stap en die mense wat jy in jou lewe toelaat. Soms is jy gelukkig oor die juwele wat jou lewe versier en net soms is jy gelukkig om jou sielsgenoot vriende te ontdek. Soms… net soms… wonder jy hoekom die tyd saam hulle nie stil staan nie.
Ek het jou ontmoet in ‘n donker, baie donker tyd van my lewe toe ek self so stukkend was waar liefde net ‘n begrip was maar tog was ons altwee so soekend daarna. Eers later het ek besef dat ek in my gebrokenheid baie min kon doen om jou seer weg te vat. Jy sien dis mos my inherente streek waar ek almal net wil help en lief hê en bystaan… al het ek nie die vermoë nie. Ek het weg gestap met die gevoel dat ek jou gefaal het. Dis mos wat ek doen…
As ek terugkyk op die pad van ons twee se taal… die liefde vir ons twee se musiek en die deel van ons hart se gedagtes, verstaan ek dat jy ook gesukkel het om jou mense-wees te deel. Jy was in jou eensaamheid stil en kwaad oor daar ‘n seer was wat gemaak het dat jy ook nie kan lief hê nie. So in ons onvermoë om mekaar te gee wat elkeen nodig het, het ons op gegee en weg gestap en elkeen ‘n afdraai geneem weg van die kruispad waar ons mekaar gevind het.
Ons het eintlik ‘n storie om te vertel, ongeag ‘n lewe saam ons nooit beskore was nie, want sielsgenoot-vriende se liefde vir mekaar is mos ‘n liefde wat min ken en nog minder verstaan. Ons het onder bo-natuurlike omstandighede ontmoet wat vir my bewys genoeg was dat jy in my lewe moes wees, en die clichè is waar… Soms is mense in jou lewe vir ‘n rede… of ’n seisoen of dalk ‘n leeftyd. ‘n Leeftyd in die fisiese tyd of ‘n leeftyd in die hart? Daai een kan ek nie klein kry nie, want hoe vergeet jy van iemand wat jou wese verstaan maar tog ook nie? Iemand wat jy voor lief is, maar tog ook nie? Hoe vergeet jy?
En ek huil vanoggend my hart stukkend oor ek bang is jy het nooit geweet watter verskil jy in my lewe gemaak het nie… Want ek was te trots om dit vir jou meer as een keer te vertel. Cause cowboys don’t cry… en die fynskrif sê hulle deel ook nie hulle gevoelens nie en doen nie die touch feely dinge nie… En ek is bitter spyt.
Kandas: Jy het my wêreld omgekeer en my horisonne verbreed want hierdie blog is jou breinkind. Jy het in my geglo selfs toe ek nie wou nie (nie kan nie) net oor ek skuins was.
Ek lees vanoggend in die koerant en vir die eerste keer word jy onder jou eie naam gepubliseer… net om jou dood aan te kondig. Rus sag ou groote!





7 Comments
Sterkte.
Jammer om te hoor jong.
Sterkte.
Ai tog, jammer om van jou hartseer te hoor.
Ek het nie woorde nie. Sterkte Girl.
Ai Nell… jammer oor jou verlies.
“Jy het in my geglo selfs toe ek nie wou nie”
En dan vra jy hoe vergeet jy?
Nee, Girlie, jy vergeet NIE. Jy huil jouself siek-hoender-oog. Jy vat die pad na die Oubaas se voete en jy loop sê vir Hom jy is jammer en jy is dankbaar. Jy is jammer omdat jy nie meer gewys het nie, maar jy is dankbaar vir dit wat was en gelewe is. En dan raak jy stil rustig en beweeg in die sfeer van serene vrede in – die wete dat jy WEET en ONTHOU.
Dit is nooit verkeerd om te onthou nie – dit is nooit verkeerd om hartseer te raak nie. Moenie iets so moois vergeet soos die een persoon wie in jou geglo het toe jy self nie het nie.
Ding besef deeglik dat Ding hierdie vir jou kom sê met die onbegrip van onbewus wees, want Ding ken nie die binnegoed van hierdie nie – maar Ding sien jou trane in jou woorde en Ding reken trane was die siel skoon.
Girlie, soveel ongerepte woorde…weet jy….jy sal berusting vind…jou pad vorentoe sal bestrooi word met rose…want so ‘n eerlike, opregte, dierbare en onverskrokke mensie soos jy word alryd raakgesien!!!!!!!!