Nee, dis nie Girl nie, dis ekke – Ou Dienskneg. Nee, daar is niks fout met Girl nie (wel…behalwe vir die sweep dalk), daar is iets fout met haar laptop. Sal more hopelik weer reg wees. Moet wees want dit is ‘n grend laptop. So, nou word ek gebel en gesê: “Skryf iets. Die volk moet lees”. Gedagtig aan die sweep skryf ek nou maar.
Vir ‘n lewe maak ek groterige webtuistes. En konsulteer mense aangaande sosiale media en nuwe media en maak videotjies en ag, al sulke kreatiewe ou dingetjies. En ek werk baie in Afrikaans en (probeer) skryf in Afrikaans en luister baie Afrikaanse musiek en het al radioprogramme gedoen in Afrikaans. En ek raak de moer in in Afrikaans en ek raak moerig vir Afrikaans.
Die afgelope twee maande veral, so oor die vakansieseisoen, het ek baie meer na Afrikaans geluister maar doelbewus nie die Loslappie, Pampoen, Kaptein span die seile tipe goed nie (storie vir ‘n ander dag) maar meer die Chris Chameleon, Valiant Swart tipe musiek. En daar tref dit my soos ‘n voorhamer. Weet julle hoe baie keer “feature” ons goeie ou Windpomp in Afrikaanse musiek?
En op prentjies. En T-hemde. En skilderye. En advertensies. En al hoe meer ook op webtuistes – ja, my eie een ook want, sien, ek het so ‘n paar maande terug begin om my eie nuwe webtuiste te ontwikkel en ontwerp en groot tussen die Egiptiese piramiedes, die Eiffel Toring, die Colosseum, die Empire State gebou en vele ander veelgeroemde geboue kreun en kraak ook ons eie windpomp. Voorwaar deel van die Wonders van die Wêreld.
My beheptheid met Windpompe kom al van kleins af. Skoolvakansies was altyd deurgebring op oorlede Oupa se Karooplaas tussen Beaufort Wes en Prins Albert. Die enigste lafenis onder die skroeiende Karoo-son en skreeuende sonbesies en gapende gannabos en kambro was in een van die ronde sementdamme onder een van die miljuisende windpompe op die plaas.
Dit is daar waar ek, na Ouma se ontbyt van moerkoffie, varsgebakte plaasbrood, lewer, niertjies, netvet en tuisgemaakte konfyte, gesit het en die wonder van die Windpomp ontdek het. Op daardie stadium sou ek die geluide van ‘n windpomp eerder vereenselwig het met Paul Riekert se Battery 9 as ‘n Chris Chameleon melodie. Helaas, die windpomp het nou vir eens en altyd ook sy plek ingeneem tussen ons eie musiek. En ook op ons webtuistes.
Beslis die beste pomp op die dorp!






44 Comments
En hier dog ek jy skryf ‘n ode aan Steve
DMi – het jy gesien??
Ek het ‘n oneliner geskryf!!!
Impressive.
Ek sal nooit daai voorreg aan Steve toeken nie…
Daar is min dinge wat verlatenheid spel as ‘n windpomp. Tog is ‘n windpomp ook ‘n teken van hoop.
Oeee…ek’s MAL oor ‘n windpomp! Rerig!
Getroue Dienskneg wat jy het Girl. Ek is ook mal oor windpompe – hulle lyk so verlate langs die pad, maar het wel ‘n doel ne.
Luister nou net hier na Chris. In alle geval, ek is baie lief vir windpompe. Eendag as jy jouself in die groot metropool van Smithfield bevind, gaan eet jy dei aand by die “Great pigout”. Behalwe dat die eienaar baie interessant is en met UFO’s praat, kan jy in die maanlig sit en die wonderlikste kos eet terwyl die windpomp hier langs jou kraak. Lieflik!
Ek was al in Zastron se wêreld en het toe ek nog baie, baie klein en soet en mooi was heelwat tyd deurgebring op Aliwal Noord. Sê nog steeds die warmwater bronne op Aliwal was die lekkerste vryplek op aarde
So, ja, ek ken die Vrystaatse Windpompe. Wil nog Smithfield toe gaan. Is mal oor kleiner plekkies in ons Land.
Maggies ou diensie….en toe kan jy wragtig jou eie griffels hier optower….en noggal damn goed hoor….maar toe vertel nou eers wanneer sien ons dit op jou eie blog in AFRIKAANS?? Windpompe…mmm…..’n windpomp laat my aan verlaatenheid en hartseer dink….sjoe ja….dankie hiervoor gehoor….en jy kan Girlie nou maar losbind sodat sy die leisels kan oorneem…hiehie….
Dankie Daizy. My eie (besigheid) se webtuiste sal volgende week reg wees en in die tussentyd werk ek ook aan ‘n redelike groot Afrikaanse blog vir iemand anders wat heelwat reaksie behoort uit te lok. Dalk skryf ek nog daar ook so ietsie nou en dan.
Met die sweep kom ek nie naby genoeg aan Girl om haar vas te bind nie! Shame, sy is seker al baie gefrustreerd met die rekenaar storie.
O, vrek! nou’s dié antie bekommerd! Die meisiekind “verdwyn” agv haar dure laptop wat nie wil saamwerk en terselfdertyd, verdwyn ons Kersiepit ook soos ‘n groot speld…………I smell a rat!! A big, stinky rat!!
Flintie, wat het jy met Girly gedoen, of het Girlie vir Flintie erens vasgebind?
Of was dit dalk, soos Die Laaitie sê: “Aliens” se werk?
Die twee lê seker iewers op ‘n strand onder ‘n palmboom.
Erm… Ek was alleen daar hoor… Geen niks om my nie.. was nogal lekker!
Ou Dienskneg, gooi my asb dood met ‘n epos? antiekoekieatgmaildotcom.
Wil jou iets tegnies vra wat my kop mal maak—— as ek groot asseblief mag?
Jy weet, op my gryse, wyse ouderdom is al die tegnologie genoeg om mens groendakkies toe te dryf. Ek’s ‘n TOTALE digioot!
En ek dink jou hyperlink op jou prentjie is nie reg nie—- moet dit nie 2imagine wees nie? Of wil jy sê “Toe, I’ma fine!!”
Antie, nee die hyperlink is reg – dis net die website wat nog nie reg is nie. Ek het ‘n e-pos gestuur en Antie kan maar my e-pos adres gebruik – dis admin [at] 2imagine [dot] co [dot] za – so geskryf dat die goggas dit nie optel nie
Ek sien nou eers die e-pos by die gravater is nie reg nie. Dis tog reg opgestel. Moet 2imagine wees in plaas van 2imafine. Ek kyk daarna.
Daarsy. Nou’s dit reg. Geen wonder ek kry nie huweliksaanbiedinge nie!
Dankie, Dienskneg, ek gee net my ma kos, dan kom huil ek op jou skouer. OK?
Is reg so. Skouers is breed.
Ok diensie en Antietjies…julle het my nou verloor waarvan praat julle tweetjies tog hier…..ek is ook totaal cyber-gestremd….
Ag, ons gesels sommer oor koeitjies en kalfies, blommetjies en bytjies, tamatjies en uitjies…
Ek loer hier in via my founkie want ek sit vas in jhb reen traffic… Dis iets om te beleef voor jy jou kop neerle eendag!
Dankie dat julle ou dienskneg ondersteun… Hy skryf oraait!
Laat ek gaan…. Voor die spietkops my aftrek.
Girlie jou arme ding….hoop jy kom darem veilig anderkant uit…eventually…..se net gou…het Diensie jou nie iewerse in ‘n kas toegebind en die rekenaartjie as verskoning gebruik nie….jy moet maar laat weet jong….ek stuur soland die ouens van CSI om te loop soek vir jou!!
I is here, madam D!
Good for you!!
As jy nou verder met die pad ry rigting Victoria Wes en daar wegdraai na Loxton, Carnavon, Williston, Calvinia en die agterpad vat deur na Loeriesfontein kom jy by die windpomp museum uit….ek dink persoonlik dis die ry werd. Lekker pomp! julle ouens (heiheiha) wat het ons tog ‘n lekker taal…Nog ‘n windpomp aanhanger!
Ek wil nog daai wêreld toe ook…………..veral noudat Tiekie en Selma van Boer soek ‘n Vrou dit so bekend gemaak het….
Hoeveel wind kan ‘n windpomp pomp as ‘n windpomp wind kon pomp?
In watse maateenheid meet ‘n mens dit Plasie
And I am back!
maar in alle eerlikheid… Ek het die mooiste song ooit gehoor by ‘n kooropvoering en kry dit nerens nie…
Kan iemand my help?
Die windpompliedjie… ja, for real!
Ek soek….
PSI natuurlik . . .
Dan moet dit op die Pomp Sterkte Indeks 100PSI wees.
As ‘n windpomp wind sou kon pomp, wat glad geensins so onwaarskynlik is nie gedagtig aan sekere sogenaamde groot geeste in ons vermaaklikheidswêreld wat wind pomp teen volumes wat onse Steve en Joost lighoofdig laat van innerlike jaloesie en uiterlike frustrasie, dan sou ek wil beweer dat sodanige windpomp beslis op volle sterkte sou kon pomp. As ‘n kultus ikoon sou sodanige pomp mos nie wou terugstaan in verleentheid nie.
As mens dan sou aanvaar dat sodanige groot geeste pomp teen 100PSI, dan moet ‘n windpomp, as sodanige windpomp wind sou kon pomp, ten minste wind pomp teen 100PSI.
Slegs my beskeie mening.
Julle help NIKS!!!!!
Ek soek ernstig… die liedjie…
Soos ek gesê het, ek soek….
Ek sal moet gaan google…
Welkom terug Verlore Meisiekind! Nou wag ons nog net vir Kersiepit!
Ou Moeder Hen (ekke) se kuikens kom nou een vir een weer nestoe.
Naand Antie… Nee ek weet nie wat van onse WIntie Flintie geword het nie. Dalk is hy besig… erens… iewer….
En wat van hierie Haan…?
As iemand ‘n opname van die regte egte Windpompliedjie opspoor…ek wil hom ook hê.
Welkom terug – hier is ‘n link vir die liedjie (weetie of dit die regte een is nie, laat weet maar).
http://www.musica.co.za/eMusica/Product.asp?Barcode=6009509307119