Hartseer
Ek wens so ek kan een oggend wakker word en dis alles weg… Ek wil jou storie klaar kry, sodat ek kan aangaan met net die vae herinneringe van toe. Ek baklei baie hard teen die swart hond wat so nou en dan kom grom. Ek gaan not a hell nie weer… ooit weer oor jou huil nie… Jy sien… daar is iemand wat my in verbasing terug laat deins in die kleiner dinge van mens wees wat my hart gelukkig maak. ‘n Sielvolle, verstaan-mens. ‘n Omgee-mens. Opreg.
Weet jy ek doen so vrek goed en ek dink regtig glad nie meer aan jou nie. Ek droom nie meer van jou nie. Ek hoor nie meer jou stem nie. Maar daar bly klein dingetjies opduik wat my net weer terug ruk na die plek waar ek nie wil wees nie. Daar is ‘n storielyn in een van die sepies waar ‘n jong karakter met dwelms eksperimenteer en vanaand het sy amper die tydige met die hiernamaals verruil. Die episode het my ongelooflik omgekrap. Nou sit ek weet en dink terug. Ek haat hierdie oomblikke.
Die Vrydagaand wat jy my gebel het om te vra of ek oorkom is die aand wat ek die heeltyd in my kop afspeel want ek wonder of ek nie jou dood kon keer nie. Jy het soos oudergewoonte elke 30 minute my gebel by die werk deur die dag om te vra of ek nie wil oorkom nie, maar daardie aand het ek dinge anderste gedoen. Vir die eerste keer in ons saam-wees kon ek vir jou nee sê. Ek wou jou nie sien nie en ek het nie eers skuldig gevoel nie. Jis dit was ‘n ongelooflike lekker gevoel. Ek was kwaad vir jou oor jy die verkeerde keuse op my ultimatum gemaak het. Daar was twee opsies. Ek of die dwelms en jou verbintenis met die Nigeriërs. Ek onthou hoe hartseer ek was oor jy nie eers twee keer gedink het aan jou antwoord nie. Vir jou was die keuse maklik. Ek wonder baie of jy wel sou dwelms neem as ek daar was… en ek voel skuldig want dalk… net dalk kon ek jou lewe red. Heel waarskynlik sou jy in elk geval net voort gegaan het en ek sou langs ‘n lyk wakker word. Ek is wel ongelooflik dankbaar dat dit nie so uitgedraai het nie.
Ek het regtig gedink die ergste dwelm wat jy mee geëksperimenteer het was kokaïen. Jy het dit sommer so openlik voor my gebruik. Daar was wel dae waar jy my gestuur het om vir jou iets te gaan doen… kos te gaan koop en wanneer ek terug gekeer het was jy nie meer honger nie en het dan geslaap. Nou eers besef ek dat jy dalk al reeds met heroïen te doen gehad het. Ek weet nie… want jy het altyd die lugversorger aan gehad en oor dit koud was het jy lang mou toppe gedra… ek het nooit jou arms gesien nie. Ag ek weet nie… dit kon jou afhanklikheid van jou kalmeer pille ook gewees het wat jy dalk geneem het om van die kokaïen high af te kom.
Jy het gedink jy is invincible… Jy het in een aand 300 kilometer afgelê plaas toe net om met jou ma te gaan praat… en het sommer weer terug gery en by my gestop. Jou gedrag was regtig meer erratic op die highs, jou paranoia tien keer erger met die afkom slag. Jy was bang jy word geagtervolg… Kan jy onthou hoe ek jou met die vuis bygekom het oor ek my dood geskrik het vir die man op my bed? Jy het vir my gesit en kyk terwyl ek slaap en tot vandag toe weet ek nie hoe jy ingekom het nie. Ek het net ‘n teenwoordigheid aangevoel en toe ek my oë oopmaak toe sien ek net ‘n silhouette van ‘n man. Eers toe jy in ‘n fluister stem my prinses noem het ek geweet dis jy. Ek het jou gevra om te ry en jy het gepleit om oor te slaap want jy was bang.
Ek het ook mettertyd bang geraak. Jou trawante het vir my dwelms op my stoep kom neersit en so het ek uitgevind hulle weet waar ek bly. Ek glo dit was veronderstel om aan een van ons twee ‘n boodskap oor te dra. Hulle het jou by tye geagtervolg. Ek is net dankbaar jy het my nooit in die strate van Hillbrow saam jou ingesleep nie en het my altyd êrens gaan aflaai so ek kan vandag verby hulle loop en sal nie eers weet dis hulle nie, maar hulle sal my herken. Net na jou dood wou ek self die strate invaar om hulle op te soek om mooi aan hulle te verduidelik wat ek dink van hulle aandeel in jou dood. Ek het immers hulle name geken. Dank die vader die depressie het ingegryp want ek kan nie sien dat hulle my weer op straat sou uitlaat na wat ek vir hulle wou sê nie.
Ek het jou vir lank kwalik geneem vir die gevaar waaraan jy my bloot gestel het. Die dag wat ek oom prokureur gebel het om te vertel van jou dood is die dag wat ek uitgevind het jy het ‘n brief by hom gelos wat hy moes oopmaak indien jy sou sterf. In die brief het jy mooi uiteen gesit dat ek dop gehou word en dat my lewe in gevaar kan wees. Ek het van die dophou geweet… maar gevaar? Ek kan nie eers begin beskryf hoe magteloos ek gevoel het nie. Ek het in vyf dae in die grootste hartseer van my lewe‘n lewensveranderende fight met jou ma en broer gehad. Ek meeste van my besittings verloor…ek moes blyplek kry en ek moes trek. Die dag wat ek getrek het was die dag wat ek regtig gedink het vandag sterf ek self.
So jy sien… Ek beweeg aan… maar êrens in my agterkop sukkel ek om te vertrou… Verstaan jy nou hoekom ek so donners graag van jou wil vergeet?





35 Comments
Liewe ouers!! Die goed is scary verby.
Ai Nell
Weet jy, jy doen merkwaardig goed vir iemand wat deur so ‘ n hel is. Gee jouself ‘n kloppie op die skouer.
((Nell))
Die feit dat jy kan skryf hieroor en praat hieroor, is wat die proses beter sal maak, Girly. Praat en praat totdat jy nie meer kan nie. En huil. Gaan lê sommer op die vloer (ek’s seker jy HET daardie al gedoen) maar doen maar weer. En dan gaan jy na die ene toe wat die klein dingetjies vir jou wys. En dan gaan dit tot groter dinge lei. Mettertyd.
Elke dag ‘n bietjie meer. Moenie die proses dwing nie.
Jy SAL beter word. Jy sal weer heel word en hierdie sal net klein onthou-stukkies in jou word wat deel van jou verlede gaan vorm. Maar die toekoms Girly, is wat uiteindelik tel.
eendag gaan jy terug kyk en besef dat dit deel was van jou vorming om te wees wie jy nou is. mag God jou seen met ‘n lewensmaat wat jou sal lief he soos jy verdien. jy is ‘n ongelooflike sterk vrou en die groei is sigbaar. jy straal hoop uit.
Niks gebeur toevallig nie. Daar was ‘n rede hoekom jy daardie Vrydag nie wou saamspeel nie. Vergeet bietjie van hom. Wat sou met JOU gebeur het as jy wel by hom was? Sou jy ooit hier gewees het vandag? Ek dink jou engeltjies het oortyd gewerk daardie dag.
Ek’s baie ongelukkig met hierdie rooi gevreetjie wat nou my avvy is. Wat gaat aan??
Ek het nou weer gelees en ek kan dalk nog een ding se.
Enige mens kan bo uitkom. Dit is nie ‘n prestasie nie.
Dit is egter die mense wat bo uitkom nadat die lewe hulle op die grond gegooi en hard geskop het wat my bewondering verdien.
Ok, Adriana Xena Phoenixa het my so pas reggehelp. My email adres was in sy maai in verkeerd.
Weetjy Xena… ek moes na my ouers geluister het, maar ek het nooit verstaan wat my pa werklik bedoel het nie. Seker maar ‘n les wat ek moes leer.
More Max
Dankie! Ek wens eintlik net dis weg… alles… herinneringe die hele blerrie spul.
Hi Sammi
Ek leef verseker vir die toekoms…. ek probeer regtig daadwerklik my denk patroon verander en dit werk, maar dis net sulke ontydige onthou sessies wat wens verby kan wees. Okay dit sal seker nooit werklik helemaal weg wees nie… maar ek wens dan dat dit nie so groot impak het nie.
Dankie Fan
Ek glo ek is verseker ‘n beter mens na die hele gedoente. Ek is ‘n sagter mens en ek weet nou wie en wat ek is.
Ek glo ook dat die regte een wel my pad sal kruis wanneer die tyd reg is. x x x
Ek dink jy is nogal reg Vlam… Ek glo daar was vir my uitgekyk… Toe ek vermoed iets is fout het ek besluit om te gaan kyk wat aangaan maar ek het by ‘n mall opgeiendig… Ek moes net nie daar gewees het nie…
Maar wanneer die happiness so bietjie dip wonder ek maar tog of dit anders sou wees indien ek daar was…
Gelukkig gebeur dit al hoe minder. Ek het wel vir maande geglo dit was my skuld.
Weet jy X… Ek was daar deur my eie toedoen… Maar dankie!
Dankie tog jou gevreetjie is nou uitgesort… daai aartappel gesiggie het dit nou nie vir my gedoen nie!
Elk geval, daar gaan altyd dingetjies wees wat jou herinner, die verskil kom in hoe jy dit hanteer. ‘n Jaar terug het ek nog in trane uitgebars, selfs as ek partykeer net ‘n foto gesien het. Die ergste is om oor die “What-ifs” te kom – Om daardie daadwerklike besluit te kan neem om te aanvaar dat jy persoonlik GEEN verskil aan die gebeure sou kon maak nie.
Weet jy Oukie… Al besef ek moes in die eerste plek nooit daar betrokke geraak het nie, was ek baie lief vir hom gewees. Ek het geglo ek gaan hom help en hy gaan gesond word. Tot op die laaste het ek gehoop hy gaan verander.
Nou weet ek van beter en as ek dink ek verlang dan dink ek net aan al die sotlikhede wat hy aangevang het en al die drama wat ek daarna deur is en daai verlange verdwyn. Ek weet in my hart van harte ek kon nie vir ‘n beter uitkoms gevra het nie. Die siklus sou nooit gebreek het indien hy nog gelewe het nie.
Maar ek bly wonder of ek iets anders kon gedoen het. Soos gisteraand toe die girl daar in die arme ou se arms le, en amper OD… toe huil ek sommer vir eeste plek want toe wonder ek… Ek voel net so in my minder (emosionele) nugter oomblikke.
Ek het alles, alles, alles wat hy ooit in sy lewe vir my gegee het weg gegee of weg gegooi. Ek het nie eers meer ‘n enkele foto oor nie. Dit is hoe graag ek net wil vergeet.
Gelukkig is daar great mense daar buite wat my help bou aan nuwe memories! x x x
Weet jy girl…ek het al hierdie wat as speletjie soveel keer gespeel…
Dis amper soos daai boeke toe ons klein was waar jy jou eie einde kon kies? Behalwe, maak nie saak watter einde jy kies nie, dit loop uiteindelik weer uit op presies dieselfde einde (net ‘n effense variasie).
As jy daai Vrydag daar was, kon jy dalk sy lewe gered het, tot volgende week Vrydag, of die Vrydag daarna.
Jy sou dit dalk net uitgestel het… ((()))
Die wyse Sammi sê dit goed: mens kan nie die proses dwing nie. En hierdie oomblikke van terugdeins is alles deel van daardie proses. So stap vir stap bou jou meganismes op om daarmee te deel, die sleg én die goed, en normaliseer jy jou benadering tot dit. Huil as jy wil, moenie as jy nie wil – laat dit natuurlik gebeur. Jy sien reeds die dans van die vlinders – elke vlinder is immers eers ‘n toegevoude papie. Eendag dans jy weer saam.
Dankie vir die deel!
Girl, hou net moed. Jy het al sulke groot spronge geneem terug na “jy-wees”. Ongelukkig gaan die onthou nooit heeltemal weg nie, net minder gereeld en baie meer vaag. (((((GvdS)))))
Onthou net een ding: Ons het die ander dag gesê selfs daardie harseer is deel van die vorming van wie jy vandag is. Materiële dinge weggee/weggooi gaan nie die onthou verander nie……. saamleef met daardie geskiedenis gebeur oor tyd, nie gedwonge nie. Soos Emil sê – Een daggie oppe slag, totdat daardie herinnering eendag nie net pyn en seer opwek nie.
Fokkit Girlie, ek het net ingeloer om te se hoesit en toe lees ek van highs, paranoia, Nigeriërs, kokaïen en doods dreigemente. Liewe donner … jy het jou fair share al gehad in die lewe. Jou recovery is amazing en ‘n inspirasie vir ons almal. JY is amazing, moet dit nie vergeet nie. Enige man wat jou kry het die jackpot gewen.
Naand Carina
Ag weet jy ek dink ek voel partykeer onnodig jammer vir myself, maar ek kan dit nie help nie. Eendag voel ek sterk en dan kry ek ‘n relapse. Wanneer ek minder emosioneel voel dan weet ek dit… Ek kon dit seker net uitstel en nie afstel nie.
Sjoe Emil… dankie… eendag dans ek weer saam… Dit vrek mooi gestel!
Dankie Ogies… Ek wens regtig dan dit vervaag vinniger!
Weet jy Oukie… Ek klou net aan een ding vas… Ek is verseker ‘n beter mens hier uit en as ek moet kies… Ou ek sonder die seer…of Nuwe ek met (deur) die seer… Kies ek maar die nuwe ek.
Ek is ongelooflik sentimenteel en heg waarde aan weird goed… so ek het deur die weg gee en weg gooi ontslae geraak van sentiment.
Andrew! **Mwha**
So bly jy is nog in die omtrek!
Dankie! Ek dink ek is nou net minder vol stront…
Girl…mmm….diep waters waardeur jy is….maar op die pad van “recovery”…..jy is ‘n wonderlike diep mens….hou net altyd jou hand in die Here s’n en saam sal jy weer die regte paaie vind….
Dankie Daizy! x x x
Girl, ons herinneringe is ons lesse in die lewe. Soms skop ‘n onthou jou winduit, soms huil jy in die supermark as jy na ‘n sekere blikkie lekkerruikgoed kyk. Maar dis skoon trane, heelword trane. En eendag, sonder dat jy besef het waar die draaipunt was, dan kyk en ruik jy daardie selfde reuk en die trane bly weg, dis net ‘n vae pyn, soos ‘n ou wond wat dofweg pyn net voor die reen. Tyd maak regte wonde heel, maar dis die Vader se tyd, nie ons tyd nie.
Dis ebb en flow Girl. Ebb en flow…
Weet jy Son, ek kan nie wag vir daai tyd om aan te breek nie… Ek verstaan dit is ‘n proses, maar laaik dit niks want eintlik moes ek nooit daar betrokke geraak het nie.
Jis Carina jy het die mooiste beskrywing nog… Nou verstaan ek die ebb en flow…
Jy skryf vreeslik mooi.
Dankie vir die inloer Wenchy!