Drie

Nou maar reg….. Ek het baie hard probeer om weg te kruip maar dit het nie gewerk nie, want daai gat waarin ek soms inval word nou bietjie crowded met almal wat ek daar in nooi. Dit is nou die mense wat so op my gemoed druk…

Ek sit hier by die werk met my oorfone en probeer so min as moontlik aandag trek want ek wil nie mense praat nie. Ek het ook onbewustelik al weer my selfoon vergeet (ek doen dit nogal baie)… ek het gisteraand nog ‘n sms beantwoord en dit is ook die laaste keer wat ek die stukkie tegnologie gesien het. Ek smag so na ‘n sigaret al van gisteraand af, maar ek dink dis die rooiwyn se skuld. Ek mis partykeer so die dinge wat ek opgegee het.

Nou dat ek my medikasie gestaak het, moet ek daadwerklik poog om positief te bly en ek dink ek doen ‘n goeie job… daar is egter so dan en wan ‘n oomblik wat ek my lus verloor. Die week is een van hulle, want meneer hartseer sou more sy nege en dertigste verjaarsdag gevier het. Alhoewel ek regtig weet ek is beter af met die uitkoms, kan ek nie help om te verlang nie. Maar nou moet julle onthou ek ry wipplank…. Want ek was regtig lief vir die man maar dan is ek nog aan die een kant kwaad vir hom ook. Kwaad oor hy sy medikasie gestaak het, die gevolge van daardie besluit en dan ook al die stront wat ek mee moes deal na sy dood.

So speel sy eerste verjaarsdag in ons saamwees in my kop af. Ons neem nou ‘n sewe maande sprong van waar ek laas ophou het met my storie. Teen die tyd, het hy opgehou om sy anti-psigotiese sowel as sy anti-depressante te gebruik. Sy highs was high en sy lows was iets vreeslik. Dit het gewissel tussen woede uitbarstings, paranoia en dan geleenthede waar hy in die bed gebly het vir dae aaneen.

Dit het nie goed gegaan met hom rondom sy verjaarsdag nie. Ek het nog nie geleer hoe om die siklus te volg nie en was nog maar dom met die paranoia. Alles wat ek gesê het was verkeerd. Alles wat ek gedoen het, het bymotiewe gehad. Maar ou blink gesiggie het dit maar in haar stride gevat. Eers later het ek geleer hoe om die tekens te sien om dan te analiseer om myself voor te berei… maar nie een keer het dit deur my gedagtes geflits om liewer my tassies te pak nie. En tot vandag toe kan ek jou nie vertel hoekom ek hom nie wou verloor nie.

Ek het hom gevra wa hy vir sy verjaarsdag wil hê want wat gee jy nou vir iemand wat enige iets kan koop wat sy hart begeer? Sy antwoord was, hy soek net rus en vrede. Daar het ‘n liggie in my kop aangegaan! Ek het hard en lank beplan aan sy geskenk. Ek het nogals gedink ek is ougat met die lucky packet idee. In die pakkie was ‘n Golf Digest tydskrif en sertifikaat as bewys van die 12 maande subskripsie wat ek uitgeneem het. Ek het vir hom ‘n bottel Rust en Vrede 2004 merlot uitgekies… ek wou sin speel op sy rus en vrede antwoord… en ek het vir hom ‘n geskenkbewys gekry vir ‘n propper barber shave by ‘n plekkie daar in Sandton. As’t ware ‘n pamper pak.

Ek het die middag vroeg afgeneem by die werk, want hy het gesê hy sal graag ‘n bord boerekos wil hê… Ek het besluit op ‘n lamsboud, rys en groente asook malvapoeding vir nagereg. Ek moes vinnig opskerp op my kook vernuf! Hy het eendag in die kombuis ingestap en het gesê hy hoop nie sy dogters is eendag so useless soos ek nie. Na daai koue water in my gesig oomblik het ek my ma omtrent elke week gebel vir raad en in ‘n japtrap kon ek boerekos maak. Net voor ek die boud in die oond gedruk het, het ek hom gebel om seker te maak. Hy was nogal geneig om afsprake te vergeet. My hartjie was bly want hy het vrolik geklink.

Ons afgespreekte sewe uur het gekom en gegaan. Agt uur toe bel ek hom om te hoor of hy okay is. Tien uur besluit ek toe om maar in die bad te klim. Ek het kerse aangesteek en sommer so met die bottel bubbly in die hand in die skuimbad geklim. Die teleurstelling het soos golwe oor my gespoel! Ek het dan soveel moeite gedoen. Die maskara strepe het swart in die water ingeloop. Ek het my oë uitgehuil. Na die bottel leeg was en ek erg tipsy het ek sommer ‘n halwe slaap pil geneem sodat die kombinasie my laat uitpass. Ek wou nie wakker word as hy inkom nie en ek wou net die aand vergeet.

So net voor twaalf word ek wakker geskud. Ek moet asseblief vir hom kos gaan inskep. Wat de fok? Ek het hom net so een kyk gegee en het omgedraai om verder te slaap. Toe steek die monster sy kop uit…. Hy stamp toe aan my dat ek letterlik van die bed afval en toe ek opstaan toe druk hy my teen die muur vas. “Jy bederf my verjaarsdag. Jy is nie ‘n vrou se gat werd nie, man. Vat jou goed en loop!” Is al wat hy uitgeblaker het. Ek kon nie my glo wat ek hoor nie! Hy het my goed sommer begin uitgooi… Ek het by hom gepleit om op te hou. Ek kan nie nou bestuur nie, ek het immers ‘n hele bottel Pongaz in, MET ‘n halwe slaap pil. Alhoewel ek myself teen die tyd nugter geskrik het, wou ek nie die kans vat nie. “Vat jou goed en fokkof!” Ek het langs hom op die bed gaan sit en het saggies aan sy been gevat… “Ek is jammer my bok”… is al wat ek kon uitkry. Ek wou regtig nie in die toestand huis toe gaan nie. Ek het opgestaan en het vir hom gaan kos opwarm.

Hy het nie na drank geruik nie, maar daar het ‘n persent op die toonbank gelê….. van ‘n girl af. My hart het in sewentig miljoen stukkies gebreek… want net daar besef ek dat ek soos ‘n doos voor die stoof myself staan en afsloof het, terwyl hy saam ‘n ander girl uit was. Ek het sy kos vir hom gaan neersit, en toe gaan haal ek my goed uit die bure se tuin uit.

Ek het maar my tyd gevat met die hoop dat hy al aan die slaap sal wees as ek terug kom. Ek het net daar langs hom myself aan die slaap gehuil. Ek het gehuil oor ek my dood geskrik het oor sy brutale en fisiese krag. Ek het gehuil oor ek bang was want wat doen ek was hy my wil los. En ek huil oor ek so ‘n slegte mens is wat hom nie kan gelukkig maak nie.

Deel hierdie gedagtes met andere...:
  • Twitter
  • Facebook
  • laaik.it
  • Digg
  • del.icio.us
  • Google Bookmarks
  • Blogosphere News
  • eKudos
  • LinkedIn
  • MySpace
  • Reddit
  • Slashdot
  • StumbleUpon
  • Technorati
  • PDF
  • Print
  • RSS
Hierdie gedagtes is geplaas in gedagtegroep(e): Rooiwyn vir die Siel Sleutelwoorde: Boekmerk hierdie permanente skakel. Terugskakels is gesluit maar jy mag opmerkings maak.. |

29 Comments

  1. Gesê op August 13, 2009 om 2:55 PM | Permanente Skakel

    (((GvdS)))

  2. Gesê op August 13, 2009 om 3:03 PM | Permanente Skakel

    Ag dankie Boer! Ek is fine, net ietwat skuins bef*k…. Ek raak koud vir myself as ek terug kyk en sien wat ek toegelaat het om te gebeur. Nou het die oogklappe afgeval… effe te laat, maar darem.

  3. Gesê op August 13, 2009 om 3:23 PM | Permanente Skakel

    My dierbare mensie. Wat moes jy nie alles deurgaan nie!! Ek sit snot en trane en huil. So ‘n groot deel van jou verhaal is ook myne, en ek kan vandag eenkant op die kantlyn staan en sien wat ek vir so lank nie wou sien nie. Ons sal nooit in so ‘n situasie goed genoeg kan wees nie. Ons sal hul nooit gelukkig kan maak nie. Ons sal nooit genoeg wees nie. Nie oordat ons nie daartoe in staat is nie, maar oordat hulle siek is en ons manupileer. Ek weet dat so baie mense sê: “Ruk jouself reg, jy is beter af sonder hom.” Maar dis helaas nie so maklik nie. Of ten minste, dit was nie vir my nie. Ek was emosioneel totaal afhanklik van hom. Ek het geglo dat ek net nog “dit” of “dat” onder beheer moes kry, DAN sal ek hom gelukkig maak. En die geheim is natuurlik dat elkeen van ons self eers moet gelukkig wees, voordat ons ‘n gesonde verhouding kan binne gaan. Dit is nie jou maat se verantwoordelikheid om jou gelukkig te hou nie.

    Ek voel jou seer en wil vandag vir jou sê dat ek so trots is dat jy dit kom vertel het. Ons kan nie genees dit wat ons wegsteek nie.

    (((((GvdS)))))

  4. Gesê op August 13, 2009 om 5:33 PM | Permanente Skakel

    Dit moes darem ‘n wrede ontnugtering gewees het.

  5. Gesê op August 13, 2009 om 6:07 PM | Permanente Skakel

    Oi. Ek kry sommer rillings langs my rug af.

    (((Girly)))

  6. Gesê op August 13, 2009 om 7:52 PM | Permanente Skakel

    Dankie Ogies. Jammer nou dat jy hartseer voel!

    Ek het net hierdie forum om daaroor te praat. Ek weet dis nou simpel van my maar oor hy more sou verjaar, dink ek meer aan hom as gewoonlik. My ma het my nou nou gebel en toe se ek vir haar dat ek hartseer voel… Nee, wat.. begin sy. Ek sou ook my hart uitgehuil het as ek my lewe so gemors het vir 2 jaar…. Ek weet nie hoe om anders te vertel sonder om iets uit te laat nie… Ek is egter bly dit is verby.

  7. Gesê op August 13, 2009 om 7:54 PM | Permanente Skakel

    LOL A3, ek kan nou terug kyk en bietjie humor in die ding inwerk, maar daar het baie meer later gebeur… Die groot ontdugtering kom nog ;)

  8. Gesê op August 13, 2009 om 7:55 PM | Permanente Skakel

    Sien, Boends… Ek het die rookseine gekry.. Ek is uit my gat!
    Dankie v d omgee! :)

  9. Gesê op August 13, 2009 om 8:34 PM | Permanente Skakel

    Ek is ook altyd laaste, as dit kom by comments lewer. Ek wil nie preek nie, wil net sê onthou: Dis nie jou skuld nie! Hyt op jou geprooi en op jou sagte hart getrap. Genesing vat tyd, soms vat dit lank en ons is altyd haastig!! Sit, haal diep asem en weet net dat môre as die son opkom nog ‘n dag is. ‘n Nuwe dag, ‘n nuwe begin.

  10. Gesê op August 13, 2009 om 8:46 PM | Permanente Skakel

    Nee :lol: Boervrou! Jy is mos maar ‘n besige dame! Dit het my ‘n jaar geneem na sy dood om te besef ek kon niks verander nie, maar die heel tyd saam hom het ek probeer om myself te reinvent om by hom te pas… ok maar lekker stupid! :roll:

  11. maxie
    Gesê op August 13, 2009 om 9:33 PM | Permanente Skakel

    Ai Nell…
    Ek’t juis so ‘n ou sagte plekkie vir jou – oor jou geskiedenis en die moed om dit te deel.
    (Kan jy hoor hoe ek spin om jou te troos?)

  12. Gesê op August 13, 2009 om 9:44 PM | Permanente Skakel

    Ag dankie Max!

    Jip, ek krap jou kop terwyl jy so spin! ;)

    Ek voel net ek kan dit regtig nerens anders bespreek nie…. Die anonimiteit help geweldig. En ek glo dalk eendag lees iemand hier en kan daar uit leer.

  13. Gesê op August 14, 2009 om 7:55 AM | Permanente Skakel

    Hoekom voel dit dan nogsteeds asof mens die bure se vensters loer as jy sulke goed lees? Seker maar omdat min mense die guts het om hulle lewens so oop te vlek voor vreemdelinge.

  14. Gesê op August 14, 2009 om 9:38 AM | Permanente Skakel

    Ag ou PJ…. Dit voel gemaklik om dit te doen oor daar nie ‘n gesiggie aan die naam gekoppel kan word nie. Of dit nou onhebbelik is…. is debateerbaar, maar ek voel ek het ‘n storie om te vertel.

  15. Boy van die Namib
    Gesê op August 14, 2009 om 11:39 AM | Permanente Skakel

    Ek was nou so die bliksem in vir hierdie f@kk@p al is hy dood. Kan verstaan dat ‘n bipolere mens onhanteerbaar is as hy/sy ‘low’ is, maar ‘n mens raak nie ‘n stuk k@k as jy op jou low is nie – dan is jy in elk geval ‘n stuk k@k. Sy medikasie het dit in elk geval net onderdruk. Ek het jou so jammer gekry toe die bliksem sê jy is nie ‘n vrou se gat werd nie – ek kry eintlik seer as ek dit self hier skryf en ek is ‘n groot sterk boerseun. En hoekom wil die ou weer eet as hy reeds saam met ‘n ander girl uit was? Kon nog nooit verstaan het hoekom vrouens altyd vir sulke k@kke val en ons ordentlike ouens sukkel ons dood om sulke nice gilrls te kry!

  16. Gesê op August 14, 2009 om 11:51 AM | Permanente Skakel

    Seun van die duine! Wow… Hoe mooi klink dit. Dankie vir die inloer

    Ek kan regtig nie verklaar hoekom ek nooit my tassies gepak het nie. Maar jy sien, sy maatjie was die duiwel self en ek was blind en doof!

    In die tyd wat ons saam was, was daar baie meer girls betrokke gewees… Maar dit sal kom in die opvolg stories….

    :lol: Ja nee…. nou is hierdie stadsmeisie opsoek na haar ware ridder. (of dalk ruiter… as hy nou van die plaas sou afkom) Die vraag is net waar, begin ‘n mens kyk? :???:

  17. Boy van die Namib
    Gesê op August 14, 2009 om 12:19 PM | Permanente Skakel

    Vlinder van die Voorstad, as ek nie getroud was nie het ek jou met my perd kom haal! Vat net jou tyd en jou droomman sal kom – of dit nou ‘n Seun van die Duine of ‘n Boy van die Suburbs is.

    Kannie wag vir jou opvolg stories nie……

  18. Gesê op August 14, 2009 om 12:22 PM | Permanente Skakel

    :) Dankie Boy’tjie!

    Hopenlik word hy hy gestuur en ek hoef nerens te soek nie!

  19. Gesê op August 14, 2009 om 8:19 PM | Permanente Skakel

    Ek herhaal wat ek voorheen gese het: jy weet ek weet wat dit vat om hierdie storie te skryf. En jy weet lankal ek volg dit nie vir sensasie nie, maar (a) om jou te leer ken en verstaan en (b) as deel van n pad wat ek self geblinddoek stap, tassend na antwoorde.

    Ek wens soms jy kan vir n wyle vinnig uit jou verhaal klim en langs my kom sit hier in die skadu’s .. do you realise how far you have come? Ek haal my hoed vir jou af .. en ek weet jy gaan nog eendag reg in die rondte smile .. vir die regte redes.

  20. Gesê op August 14, 2009 om 10:15 PM | Permanente Skakel

    Hey Elfie x x x

    Die dag wat ek in jou valley is, sal ons verseker ‘n botteltjie rooi saam geniet!

    Dit is verbasend hoeveel genesing in 18 maande plaas gevind het… Sjoe, nou dat ek die maande moes tel kan ek nie glo dis al so lank nie.

    Ek sien uit na die toekoms want ek is vol hoop dat dit vol goeie dinge sal wees :D

  21. Gesê op August 15, 2009 om 6:01 PM | Permanente Skakel

    Sjoe. Ek kan maar net aflei hoe swaar of moeilik die skrywe was – die spelfoute gee dit weg :wink:

    Die toekoms is reeds vol goeie dinge. Jy is 18 maande verder weg, en vorentoe.

  22. Gesê op August 15, 2009 om 8:53 PM | Permanente Skakel

    Girl, at least het jy die moed om dit te deel, en te ‘tackle’! Ek is altyd bang as ek sulke goed deel of neerskryf dat dit my sal ‘haunt’, ek voel skuldig om dit te deel! Maar ek kan jou een ding sê, jou meneer harstseer klink baaaaie bekend, n manupileerder of note!

  23. Gesê op August 16, 2009 om 2:24 AM | Permanente Skakel

    sjoe. ek het nie baie om te se nie. ek lees, girl, en my hart gaan na jou toe uit.

  24. Gesê op August 16, 2009 om 9:57 PM | Permanente Skakel

    Hey Emil

    Jip… Afrikaanse taalreëls en spelling for that matter… en ek is nie maatjies nie en jy is reg… ek het gegaan op emosie en nie op reëls nie. :???:

    Uitgevang! :)

  25. Gesê op August 16, 2009 om 10:01 PM | Permanente Skakel

    Welkom terug Tweeling!!!!!!

    Ek voel partykeer ek pak nou hier ‘n ding aan wat dalk kon gebly het want ek het after all ‘n image wat ek wil handhaaf…. But then again, ken niemand my nie en dit help. Die om my onthou hoe ek was in daardie tyd want ek het myself verloor en as ek daaroor wil praat dan raak hulle van vooraf kwaad en dan kry ek niks uitgerig nie. Die geskrywery help!

  26. Gesê op August 16, 2009 om 10:03 PM | Permanente Skakel

    Hallo Annderstertjie!

    So bly om te sien jy is ook nog hier rond! ;)

    Dankie
    x x x

  27. Gesê op August 17, 2009 om 9:31 AM | Permanente Skakel

    ((((GvdS))))

  28. Boy van die Namib
    Gesê op August 17, 2009 om 12:20 PM | Permanente Skakel

    Girlie’tjie, jy ken mos die storie van as jy jou smart met iemand deel is jou smart net die helfte so swaar, maar as jy jou vreugde met iemand deel is dit dubbeld so lekker! Nou ja, laat al die k@k in jou lewe wat jy met ons almal deel nou elke keer halveer as iemand dit lees – al ken ons jou nie. Nogal moer snaaks – gister in die kerk lees die dominee uit Spreuke en daar staan iets soos : “Jou kop is soos die Karmel, jou hare soos rooi wol” en in die kerk, omtrent 2000km van jou af dink hierie seun van die duine aan jou swaarkry tye!
    Ek hoop daar sal nog baie gelukkige tye vir jou wees wat jy met ons sal deel en dit dan dubbeld so lekker sal wees.

  29. Gesê op August 17, 2009 om 12:48 PM | Permanente Skakel

    @ Zee – Dit gaan nou al soveel beter. Dankie!

    @ Boy van die Namib – Dankie! Wie sou nou kon raai daar is kerke daar in jou woestyn geweste ;) . Ek is baie hoopvol en glo die goeie tye wag net hier om die draai!

Sê jou Sê

Jou E-pos word nooit gepubliseer of met andere gedeel nie. Benodigde velde word gemerk met 'n *

*
*
  • Meer oor die Suburbs…

  • “n Voorstedelike Engel

    Ek is 'n nooi van Pretoria maar woon al 'n paar jaar in die Goudstad. Dit is in my nuutgevonde vryheid waar ek besonderse dinge beleef het en mense ontmoet het wat my bestaan ingekleur het. Mooi herinneringe is gebou; maar ook hartseer terugslae is beleef. Of hierdie nou 'n spoegblok, 'n dagboek of net die neerpen van 'n mengelmoes van my onsamehangende denke is, is debateerbaar. Dalk is ek 'n filosoof met die wyshede van die wêreld wat ek aan ander kan openbaar..... Ek kan dus bieg, wat ook al die beskrywing... hierdie is 'n persoonlike soeke na innerlike vrede en antwoorde wat ek verstaan.

  • My gedagtes draai om…

  • Besoekers nou by die suburbs…

    • Daar is tans 5 Besoekers aanlyn
  • 'n Wolk van Sleutelwoorde...

  • Onlangse Opmerkings...

  • Kontak die Suburbs

  • Argiewe van gedagtes

  • Ek ondersteun graag…

  • En ook vir…

  • Besoers aan die Suburbs…

    Hit Counters
  • Neem asseblief kennis…

    Kopiereg © 2010 Girl van die Suburbs - Alle regte voorbehou - totdat die Stormers die Super 14 wen. Wat beteken dit is van nou af tot in alle ewigheid. Hierdie blog is vir my ontwikkel op WordPress en 'n eie, unieke tema op die Thematic platform deur 2imagine met grafiese ontwerp insette deur I Love Design

  • Afrigator
  • Creative Commons License