Liewe Hartseer
Ek is vanoggend hartseer en huil al van gisteraand af na die boodskap wat ek gekry het. Dis iets wat ek moes hoor en ek is ongelooflik dankbaar oor wat ek daar gelees het.
Dis vandag twee jaar terug wat ek voor jou oop graf gestaan het en in alle eerlikheid was ek in die laaste jaar nie weer daar gewees nie. Ek hoop jy verstaan. Ek hou nie van die grafsteen wat hulle vir jou opgesit het nie. Die boodskap op uitgekerf in die marmer is myns insiens ‘n bespotting. Tot in jou dood het hulle jou nie verstaan nie.
Ek het daardie dag gedink my hele lewe word saam jou in die aarde gesak. Dit was en sal seker die slegste dag van my hele bestaan wees. Wel, ek hoop so… ek wil nie weer soveel pyn ervaar nie. Nog nooit het ek so alleen gevoel nie.
Ek onthou… Met jou in die kis en ek en jou familie geskei deur rye kerkbanke, kon ek voel hoe hulle verwoede haat my aangesig deurboor het en al wat ek kon doen was huil. Huil want ek was jammer ek kon jou nie help nie… want my liefde was nie sterk genoeg om jou te red nie… want ek het geweet… naas die drie blinkgesig kindertjies, is ek die enigste een wat jou lief gehad het. En ek het gehuil oor my laaste soen aan jou, gebukkend oor die kis op die koue lewelose mond, met hartseer vertrek.
Die onskuld van jou kinders in hul kromgebuigde wilgelat lyfies was vir ‘n oomblik vergete. Hulle ma het eenkant na my geloer. Die vrou van wie jy al 7 jaar lank geskei was, het die rol van die huilende weduwee bemeester… Met die stywe geklou van hulle armpies aan my het hulle braaf probeer troos met woorde soos, “onthou dis nie ons pappa wat daar le nie… dis net sy lyf.” Die rolle was verruil en hulle kon sien, niks kan my troos nie.
Die dominee het met deernis die eerste paar verse van Psalm 23 voorgelees.
“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.”
Ek het daardie groue Maart oggend probeer sin maak uit die Skrif en ek was kwaad dat jy in jou menslike swakheid jou eie datum bepaal het om by die feesmaal aan te sit. Ek het by die graf op my knieë neergesak en het het jammer gesê. Ek was kwaad want jy het toegelaat dat ek moes voortleef met ‘n gebroke siel wat verder afgeknou was deur jou mense. Jou ma het my kom optel en in my oor gefluister… “Jy ontstel die kinders..”. En ek het jou gehaat. Ek kon in my uur van pyn en hartseer nie eers mens wees nie. Ek het daar weggestap, want ek kon hulle nie in die oë kyk nie. Hulle het daar met emosielose uitdrukkings, regop, styf en gemasker. Jou lewe was vir hulle ‘n verleentheid. Jou dood ‘n skande.
Vandag wil ek net vir jou vertel ek is nie meer kwaad vir jou nie. Ek verstaan en uiteindelik het ek antwoorde.
Rus sag. Tot ons mekaar weer sien…. En onthou…. so krom en gebroke soos wat ons bestaan was, was ek baie lief vir jou.
En dit gaan goed met my. Baie goed, want daar is vrede, liefde en soveel seen.









In tyd…..